Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL NUUS 22 FEBRUARIE 2015.

Goeiemôre en welkom by die weeklikse nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radio Liga, wat gelees word deur ________________________ (naam, roepsein en QTH)

Die Suid-Afrikaanse Radio Liga saai elke Sondag om 08:15 plaaslike tyd in Afrikaans, en om 08:30 plaaslike tyd in Engels, landswyd 'n nuusbulletin uit , op HF sowel as op verskeie BHF- en UHF-herhalers. Vir Echolink-luisteraars is daar 'n herleiding deur ZS0JPL. 'n Potgooi is ook beskikbaar op die Suid-Afrikaanse Radio Liga se webblad.
Hierdie oudiobulletin kan van die Suid-Afrikaanse Radio Liga se webblad, www.sarl.org.za , afgelaai word.
'n Teksweergawe van hierdie en vorige bulletins kan ook daar verkry word en jy kan ook inteken om nuwe bulletins per e-pos te ontvang.

Ons begin vanmôre se bulletin met nuus van 2 stil sleutels:

** Dit is met leedwese dat SARL nuus die afsterwe van Tina van Zyl ZS6BVG moet aankondig. Tina was `n oudlid van Tak Noord Transvaal , nou bekend as Magalies Radioamateurklub.
Ons betuig ons innige meegevoel met haar enigste seun Pieter, familie en vriende.
Dan vanaf die SARL Forum, is kennis geneem dat Luther Uys, ZS6E, op 13 Februarie 2015 ’n stil sleutel geword het. Luther het op 1 Julie 1947 by die Suid-Afrikaanse Radioliga aangesluit en was een van die langs dienende lede van die Liga.

Ons betuig ons innige meegevoel met sy dogter Jennifer, ander familie en sy baie vriende

IN DIE NUUS VANDAG.

HAMNET 40 METERGESIMULEERDENOODKOMPETISIE
ANZAC WORD IN HERINNERING GEROEP
HABEX BINNEKORT GELANSEER
AFRIKA ALLE MODUS INTERNASIONALE KOMPETISIE

Bly ingeskakel vir meer hieroor en nog ander interessante nuusbrokkies.

** Die Suid-Afrikaanse Radio Liga Hamnet 40 meter Gesimuleerde Noodkompetisie is oop vir alle radioamateurs in Suid-Afrika, Namibië, Botswana, Zimbabwe, Swaziland, Mosambiek, Lesotho, Marion-eiland en die Suid-Afrikaanse Antarktika. Slegs kontakte met hierdie gebiede sal tel. Die kompetisie sal op die lug wees vanaf 12:00 tot 14:00 UTC op Sondag 1 Maart 2015 en dit is 'n foon-kompetisie in die band segmente 7 063 tot 7 100 kHz en 7 130 tot 7 200 kHz.

Deelname kan wees as 'n a) Enkel-operateur stilstaande mobiel; b) Enkel-operateur draagbaar; c) Multi-operateur draagbaar of d) Enkel-operateur basisstasie. Stilstaande Mobiel en draagbare stasies moet bedien word van dieselfde standplaas vir die duur van die kompetisie en alle krag wat gebruik word moet voldoen aan die vereistes vir veldstasies soos in die algemene reëls. Die uitruiling is 'n seinverslag gevolg deur 'n drie-syfer nommer, afhangende van die klas van deelname.

Raadpleeg asseblief die 2015 Kompetisie Handleiding vir telling en vermenigvuldiger besonderhede. Logstate moet voor of op 7 Maart 2015 aan Hamnet Oos-Kaap, Al Akers, ZS2U, Clarencestraat 53, Westering, Port Elizabeth, 6025 of per e-pos aan contest@peham.co.za gestuur word.
Die sluitingstyd en datum vir logstate vir die Nasionale Velddag is middernag vandag 22 Februarie. Stuur jou logstate na zs4bfn@gmail.com

** Australië en Nieu –Seeland sal gedurende 2015 die landing van troepe op Gallipoli gedurende die Eerste wêreldoorlog, `n 100 jaar gelede in herinnering roep.
Dit is 'n belangrike herdenkings gebeurtenis en Amateurradio in Australië sal spesiale geleentheids- roepseine in werking stel vir die meeste van 2015. Hierdie roepseine sal uit die spesiale geleentheid voorvoegsel VI gevolg deur die Staat of gebieds aanwyser en dan die woord ANZAC bestaan. Sien www.wia.org.au/newsevents/anzaccentenary/about/
Meer volledige inligting is per e/pos aan IARU Lid Verenigings gestuur.

** `n Oproep vir hulp.! Andy Thiemann, HB9JOE, benodig 'n ZS5 QSL kaart om sy All Africa-toekenning te voltooi. Hy het twee ZS5 QSOs in sy log, maar sukkel om 'n QSL-kaart te kry. Jy kan Andy kontak by hb9joe@uska.ch om 'n kontak te reël en dan QSL kaarte uitruil, direk en via LoTW.

** HABEX-10 word op 25 April lanseer. Die HABEX-10 Missie is geskeduleer vir lansering op Saterdag 25 April. HABEX is die Engelse akroniem vir “High Altitude Balloon Experiment”. Hierdie vlug is deel van die “Global Space Ballon Challenge” vir 2015. Meer inligting oor HABEX en sy bande met amateurradio is op die web by www.habex.za.net

** 'n Aansoek om lidmaatskap van die SARL is ontvang van Adam Jacobus du Toit, ZS6ADT.
Enige besware teen die aanvaarding van hierdie lidmaatskap aansoek moet die Sekretaris bereik voor of op die Dinsdag na hierdie bulletin.
Lidmaatskaptal van die SARL is tans 1618 plus 36 geaffilieerde klubs

** Jy luister na `n nuusbulletin van die Suid Afrikaanse radio Liga en ons gaan nou voort met nuus vanaf die liga en ook kompetiesie nuus.
** 'n Aansoek om lidmaatskap van die SARL is ontvang van Adam Jacobus du Toit,ZS6ADT.
Enige besware teen die aanvaarding van hierdie lidmaatskapaansoek moet die Sekretaris bereik voor of op die Dinsdag na hierdie bulletin.
Lidmaatskaptal van die SARL is tans 1618 plus 36 geaffilieerde klubs

** Die doel van die Afrika Alle Modus Internasionale DX Kompetisie is om kompetisie deelname uit Afrika aan te moedig. Deelnemende stasies kan wêreldwyd 'n entiteit tydens die kompetisietydperk werk. QSO`s met radioamateurs in Afrika word aangemoedig aangesien hoër punte vir Afrika kontakte verwerf kan word volgens die kompetisie reels.
Geldige Afrika DXCC-entiteite word gedefinieer as die entiteite wat in die ARRL DXCC AF lys voorkom, soos gepubliseer tydens die datum en tyd waarop die kompetisie plaasvind.
Die kompetisie duur vanaf 12:00 UTC op Saterdag 14 Maart tot 12:00 UTC op Sondag 15 Maart 2015. Beide enkel-en multi-operateur stasies kan vir die hele tydperk van 24 uur werk. Geen verpligte onderbreking word vir die duur van die kompetisie vereis nie. Gelykgolf, RTD en ESB kan op 160, 80, 40, 20, 15- en 10-meter gebruik word.
Bevestiging vir `n kontak benodig die RS(T) verslag gevolg deur 'n reeksnommer wat by 001 begin. Verskillende modusse of bande vereis nie verskillende reeksnommers nie. Elke QSO moet net aangeteken word.
Alle QSO`s met Afrika-entiteite tel 10 punte en alle ander QSO`s tel 1 punt. Geen papier inskrywings sal aanvaar word vir kompetisie of kontrole doeleindes nie. Logstate, mag net in Cabrillo formaat ingedien word en moet voor of op 30 Maart 2015 gestuur word aan contest@sarl.org.za. Lees die reëls oor die telling, vermenigvuldigers en kraguitset op bladsy 50 van die 2015 Kompetisie Handleiding.

** Hier volg die uitslae van die QRP kompetisie wat gehou was op 24 Januarie 2015. Nege logstate was ontvang waarvan 2 kontrole logstate was.

1ste Rudi Venter, ZS6DX, 1 911 punte (Ultra ligte kategorie)
2de Wesrand ARK, ZS6WR, 408 punte
3de Theo Bresler, ZS6TVB, 245 punte
4de Theunis Potgieter, ZS2EC, 120 punte.
5de Brian Jones, ZS6BV, 72 punte
6de Eddie Leighton, ZS6BNE, 60 punte (Ultra ligte kategorie) en Dennis Green, ZS4BS, 60 punte
8ste Jan Gelderblom, ZS6JHG, 8 punte

Kontrolestate was ontvang van die Pretoria ARK, ZS6PTA, en Michael, ZS6MSW. Hartlik geluk aan die wenner Rudi Venter, ZS6DX.

** Die Wesrand Amateurradioklub hou sy volgende snuffelmark om 12:00 op Saterdag 28 Februarie 2015 by die klubhuis in Krotonstraat, Weltevredenpark, Roodepoort. Almal is baie welkom. Vir meer inligting skakel, Nick ZS6NCK by 082 454 1272.

** Radio kommunikasie is vinnig besig om bo 60MHz of 5 meter te beweeg, en help nou om die beperkte BHF wat voor die Tweede wêreldoorlog bestaan het uit te brei. Ons is almal al bekend met die Super Hoë Frekwensie wat DStv vir uitsendings gebruik en die aanhoudende soeke na bandspasie. Bandspasie toekennings is alreeds deur die ITU gemaak wat tot in die Ekstra Hoë Frekwensie spektrum nl. 300 GHz strek. Van die kommunikasiedienste wat van die spektrum gedeelte gebruik maak is onder andere lugverkeer, Amateurradio, skeepsverkeer, mobielekommunikasie , Radio astronomie, satelliete en ruimtenavorsing.
Gedurende die 1920`s het amateurs DX-werking ontdek op MF en HF bande wat beskou was as ontoereikend vir langafstand kontakte, maar nog steeds vandag geniet word. Amateurs moet ernstig daaraan dink om kommunikasie op die bogenoemde frekwensies en bande te bewerkstellig. Toegewyde amateurs het alreeds regoor die wêreld `n bydrae gelewer deur op BHF, UHF, SHF en EHF verskillende voortplantingsmodusse te gebruik. Afstande van byna 4000 km. op 144 MHz en meer as 2000 km. op 10 GHz is alreeds aangeteken deur middel van Tropogeuting sowel as satelliet en Aard Maan Aard.

** Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak baie laag gaan wees. Daar is sewe, klein sonvlekgroepe sigbaar maar almal is stabiel.
Die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 63 vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen.
Amateurs kan goeie openinge op die 20 tot 10 m DX bande verwag.
Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

** Dagboek van gebeure.
22 Februarie – vandag die Suid-Afrikaanse Radioliga Digitale kompetisie en die sluitingsdatum vir Nasionale Velddaglogsstate
21 en 22 Februarie - ARRL Internasionale DX gelykgolf kompetisie
28 Februarie - Wesrand ARK Vlooimark
1 Maart - die Hamnet 40 meter Gesimuleerde Nood kompetisie
14 en 15 Maart - Afrika Alle Modes Internasionale DXCC wedstryd.
28 Februarie – Wesrand Amateurradioklub snuffelmark.
28 Maart - SARL@Home oor DX en kompetisies
28 en 29 Maart - 5 MHz aktiwiteits naweek
9 April - laaste dag vir die Mei RAE te registreer.
25 April – Habex word gelanseer.

** Om die bulletin mee af te sluit, `n terugblik op ons hoof nuusitem.
Die Suid-Afrikaanse Radio Liga Hamnet 40 meter Gesimuleerde Noodkompetisie vind plaas op 1 Maart 2015. Alle radio amateurs in Suid-Afrika, Namibië, Botswana, Zimbabwe, Swaziland, Mosambiek, Lesotho, Marion-eiland en die Suid-Afrikaanse Antarktika is welkom om deel te neem.
** Die Suid-Afrikaanse Radio Liga se nuusdiens nooi klubs en individue om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte indien moontlik, in beide Engels en Afrikaans op die Suid-Afrikaanse Radio Liga webtuiste onder die “newsinbox” skakel nie later as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan nie.

** Luister elke Sondagoggend om 10:00 plaaslike tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082 kHz laer syband, 7 205 en 17 660 kHz AM en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Potgooi deur Dick, ZS6RO, is ook beskikbaar. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 sentraal Afrika tyd op 4895 kHz plaas. Ons ontvang graag jou seinrapport, kommentaar en voorstelle. Stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

** Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse RadioLliga wat saamgestel en gelees word deur Johann du Plessis ZS6PSS en , geredigeer deur Ettienne Naude

Die Afrikaanse nuusspan groet nou en wens jou `n mooi week toe. Totsiens

/EX







Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003